Dag 22: Tyd

Vandag voel dit of ek liewer in Afrikaans moet gesels.
Ek sukkel vreeslik om al my emosies en gevoelens te orden. Dis asof ek hierdie stormvloed gedagtes beleef en ek geen gereedskap het om dit te hanteer of uit te sorteer nie. Ek sukkel om te fokus op my eie pad. Daar is soveel afleiding met die dat ek my man ondersteun - wat ek op die stadium met liefde doen. Maar dit tap my. Ek smag na 'n stil oomblikkie vir myself om oor my eie gevoelens  te dink en myself te voed.
Gisteraand se AA vergadering was nogal nodig. Die vrouens van Al-Anon het die vergadering gelei en die spreker het gese jy kry uit AA wat jy insit. Dit het ek gelukkig al besef. Maar dit het my ook laat dink oor wat ek insit. Ek is so besig om die nuutgevonde vreugde van 'n nugter huwelik te beskerm, dat ek weining insit om seker te maak alles val nie weer uit mekaar nie. Ek val nie weer uit mekaar nie. Eerlik waar ek is baie moeg. Bietjie huilerig ook. Ek voel mislik en die bedruktheid wil-wil inkruip. Ek is nie op moedverloor se vlaktes of iets nie, ek voel net bietjie spaced out. Daar is baie dinge wat ek nie verstaan nie. Die feit dat my emosionele intellegensie die van 'n 14jarige is - want ja ek dink dis hoe oud ek was toe ek begin drink het - maak dinge moeilik. Dis die ander ding, ek kan nie onthou nie. Ek werk aan hierdie moral inventory en ek kan nie onthou nie. Dit maak my bang om te dink dat daar dalk regtig horrible goed is wat ek nie onthou nie. Veral dinge wat ek gese het. Ek weet nie.

Ek vind myself ook dat ek presies so optree soos my man nou nodig het dat ek moet optree. Ek wil hom graag verseker dat ek 100% in die ding is saam met hom, maar ek is nogsteeds bang dat as ek myself is, dit dalk dinge kan bemoeilik. So ek probeer perfek wees sodat ek hom nie ontstel nie en so voeter die kringloop voort. Ek het besluit om bietjie Al-Anon toe ook te gaan sodat ek kan leer om op te hou om my man te beheer. Om op te hou om myself verantwoordelik te hou vir wat hy doen. Hy moet die pad self stap en ek kan hoor uit ons gesprekke dat hy doen.

Ek wonder partykeer hoekom al die dinge nodig is. Hoekom dit so moeilik is om te vergewe en vergeet. Hoekom 'n nuwe lewe so angswekkend moet wees. Ek wens ek was al daar. Waarookal dit mag wees. Ek wens die pad was korter en ek wens daar was meer stilte. Ek wens vir so baie dinge. Maar ek wens die meeste, dat vandag weer nugter sal wees. Dit is ongelooflik hoe stadig tyd verbygaan as jou lewe op 'n ratstelsel van een dag op 'n slag loop. Maar dis ook ongelooflik hoe baie tyd mens skielik het. Niks meer verlore dae en ure nie. Net baie baie tyd, wat gelukkig alle dinge genees.

From Koos:
Hello SS

My mind is playing games tonight...strange day.Just a thought.
Patience with others is love
Patience with yourself is hope.. and
Patience with God is Faith.
Easy does it young Lady...easy easy!!
Koos.

0 comments: