Day 2

Wel, hier staan ek aan die begin van dag 3, met vrede oor ek Dag 2 oorleef het. Vandag moet Afrikaans wees, want net Afrikaans kan uitdruk hoe verpletterend gewoon Dag 2 was. Ek het 'n aaklige verkoue, die hele snotterige, hoeserige heigende besigheid tap my energie. Ek kan nie my hoestroop drink nie, want daars alkohol in en die warm verkoue medikasie het my dronkerig laat voel wat 'n gesprek met "Oom George" ontketen het (van pure skuldgevoel en senuagtigheid) en vandaar die vrede en dankbaarheid, dat dit die keer Med Lemon en nie Rooiwyn was nie, wat deur my neus gekom het.

Daar was darem een ligpunt: een van my henne het uiteindelik 'n eier gele. Mooi netjies in die middel van die gerieflike grasnessie wat ek met liefde aanmekaar geflans het. Dit is 'n pragtige eier. My kind wou natuurlik opstuk nie he ek moet dit uit die nes haal nie, want daar is 'n baba kuiken in en sy wou niks hoor van die feit dat daardie einste eier Saterdag ontbyt gaan wees nie. My hele self-sustainability plan gaan my kind in 'n vegetarier verander - no- offence groente eters. Ek wonder of sy weet dat ek die hoender ook gaan eet sodra sy ophou eiers le...

Ek het gisteraand ook met my ellendige dik kop die storie van Dawne in die Big Book gelees. Dawne wat so seker was dat sy nie dieselfde pad as haar alkoholis man sal loop nie. Sy wat so slim en in beheer was. Een ding van haar storie het my opgeval:
Sy se op 'n stadium: "Hoe kan ek wat altyd in beheer van alles is, dan geen beheer hieroor he nie?"
Ek weet presies hoe dit voel.
My pa drink vandag nog. Die herinneringe van sy drank misbruik bly my daagliks by. Om hom vandag in sy 50s te sien swaarkry - als agv drank, is hart verskeurend. Ek was so bitter seker dit sal NOOIT ek wees nie. En hier sit en tik ek op my Sobriety Blog...mmmm, miskien sal ek dit tog regkry om nooit soos my pa te wees nie - al eindig ek ten minste nie soos hy op nie.

Ek kon beswaarlik slaap gisteraand van pure opgewondenheid om eintlik net vandag te kans se, Dag 2 is verby and I made it!

En dan natuurlik kry ek vanoggend hierdie verfrissende epos vanaf Koos:

Naand dapper en vindingryke Alkie....my laptop hou en na die dag is dit lekker om gou te gesels.



Jou blog is 'n wondelike idee...die aftel van die tyd 'n maatstaf van groei, lewe en realisme...kan jy dink waar daardie "horlosie" binnekort staan en hoe dit gaan lyk!!


Ek wil graag met jou deel waarheen my kop vanoggend gestaan het na die lees van jou e-pos. Daar is 'n wondelike boek genaamd "Tuesdays with Morrie" wat handel oor 'n student wat na baie jare weer by sy lektor gaan kuier het en die gesprekke wat hul gevoer het op skrif gestel.Hoe hulle van mekaar geleer het. Goeie verstaanbare leesstof wat ek geniet het.

Jy vra seker nou wat het dit met my gedagtes van vanoggend te doen: Ek was op die punt om ons e-posse in 'n aparte "label" file te sit op gmail sodoende dit te hou en te sien hoe ons gespreke groei, taan, ontwikkel ens ens. Dit kan dalk in die toekoms vir iemand wat die pad van nugterskap wil loop iets beteken.


Jy het my egter voorgespring met jou "blink" blog...well done young lady, well done.


Terug by die nou: . Dankie weer eens vir jou openhartigheid oor gisteraand. Ek is so bly dit het vir jou soveel beteken, en dit is maar die begin. Elke reis begin met die eerste tree...en joune was sommer 'n groot brawe een. Ek het altyd gewonder hoe AA so naief kon wees om te dink dat die "simple" program enigsins kan werk deur "share and care"...maar soos jy gisteraand ervaar het dit werk...daardie roof is oop. en deur hom oop te maak kom die kwaad uit, word ontbloot en kan die gesond word proses begin.


Ek gaan ewe kommentaar lewer op jou blog bietjie later...besluit nog of ek onder Koos gaan skryf of dalk ander happy naam. Heel oorspronklik jou naam, *****sou te na aan die waarheid wees of hoe?


Dankie vir jou wense vanoggend...ja my dag was uiters merkwaardig...my kar wou drie keer nie vat nie, die laptop het geweier n paar keer, die verkeer was uit die bose, my drie kliente by die aandwerk het nie opgedaag nie, ek sukkel sonder die nikotien, ek het my dagboek gisteraand by Coram Deo vergeet...om 'n paar hoogtepunte te noem...maar liewe Sannie...die dag is amper verby..sonder alkohol, sonder baklei, sonder verwyte, sonder selfbejammering en sonder emosionele skade..sommer net verby.


...dit was aand en dit was more, jou eerste dag...geluk Sannie...geluk!!


Mag jou reis al jou verwagtings oortref en meer!


Lekke aand.
Koos.

Voorwaarts in Dag 3. Tot Later.
Sannie

1 comments: