Hoe om net te "is"

To my English readers, I'll repost this one in English at some point, but today I need the ability to express in my mother tongue...

Eerste blog vir 2011. Jip, hy het so begin. Met 'n bang en 'n geskarrel, maar dis lekker. Na 'n verskriklike 2010 met al die verwoestende en tog ('n paar) goeie dinge, was die see vakansie heerlik. Ek het nie veel tyd vir alleen besinning of diepe denke gehad nie, maar ten minste het ek een baie belangrike ding besluit. In 2011 gaan ek net "is".
Nou vir die wat wonder - vir my om te 'is' beteken om net te anvaar (vir nou) dat party dinge nie gaan verander nie. Nie in my werk nie, nie in my huwelik nie, nie in my verhoudings met mense nie, nie in my kind se geaardheid nie, nie in my oortuigings nie, nie in my man s'n nie en beslis nie in die wereld nie.

Ek het baie selde enige tyd vir myself. Stilte. Vrede. Totale onderbrekinglose eietyd. In die verlede het dit my vreeslik kwaad gemaak en totaal onregverdig gevoel. Maar ek het besluit om dit nie meer te verwag nie. Ek wil die tyd wat ek wel het - wat terloops oor my pad kom, liewer beter gebruik en werklik vertroetel. Ek gaan nie meer daarvoor vra of daarop hoop nie. Dit 'is' soos dit 'is'.

Ek probeer baie hard om 'n gesonde struktuur en roetine vir my dogter te skep en te handhaaf. Om nie te skree en ongeduldig te wees nie en om tyd saam met haar te spandeer. Dis moeilik, want tyd saam met haar, is tyd weg van my man - en eintlik weet ek nie wie die grootste aandagvraat is nie. So ek gaan dit nie meer skeduleer nie, ek gaan nie meer skuldig daaroor voel of dit probeer balanseer nie. Ek is een mens, ek moet werk, eet en en slaap. As en wanneer daar tyd vir my geliefdes is, sal ek dit ook waardeer en vertroetel, maar ek sal myself nie meer laat verantwoord of verdedig vir aantuigings van afskeping nie. Dit 'is' wat dit 'is'.

Ek begeer met my hele hart 'n huis sonder enige alkohol. Ek het nie een nie en ek sal in my huidige huwelik nooit een he nie. My huwelik 'is' wat dit'is'. En ek aanvaar dit want ek het bo alle redelike twyfel besef dat ek nie die moed het om te skei nie nie. Ek het nie die moed om myself of my dogter of for that matter my man daardeur te sit nie. My enigste alternatief is om op te hoop en te aanvaar dat my huislike lewe 'is' wat dit 'is'.

Ek wil graag 'n georganiseerde huishouding he, waar instandhouding gereeld gebeur en uitstel nie heers nie. Waar almal fluks saamwerk en dinge nie tot op oorlog draai uitgestel word nie. Waar irretasies  nie in elke hoek en draai sit en tart tot jy bars nie. Waar aandete beplan word en nie gebaseer is op nukke, grille en 'lus vir's nie'. Ek het dus vrede gemaak dat dit net 'n huis is - en as die motorhuis so deurmekaar is dat my kar beswaarlik daarin kan kom, dan stop ek buite. As daar soveel bossies is dat die tuin onnet lyk, dan trek ek maar een of twee uit as die tyd my toelaat. En die flenter geut en verblykte motorhuisdeur sal uiteindelik deur 'iemand anders' reggemaak en geverf word. Dit maak tog eintlik nie saak nie. Dit 'is' net 'n simpel huis.

Ek wil graag sonder finansiele probleme lewe. Ek wil nie skatryk wees en kubieke meters vol aardse besittings opgaar nie, maar ek wil graag vir my kind nuwe ballet skoene kan koop as hare nie meer pas nie. Ek wil net tot op die laaste dag voor payday actually nog geld oorhe. Maar dit sal nie gou gebeur nie. Want maak nie saak of my man geld verdien of nie, dit sal nog lank wees voor hy daarmee kan werk. En alles sal net altyd duurder word en in my huis sal ek altyd ultimately laaste verantwoordelik wees vir survival. Dit 'is' soos dit 'is'.

Ek wil graag 'n wonderlike werk he vol excitement op 'n daaglikse basis en iets belangrik en tasbaar doen. Maar ek doen nie. en my werk is nie sleg nie, maar dis 'n gamklike means to and end. Ek is nie besonders goed daarmee nie, maar is darem bogemiddeld. So weereens, dit 'is' wat dit 'is'.

En al die dinge is okay. Want ek is nie gelukkig nie, maar ek is ook nie ongelukkig nie. Ek 'is' net. Ek weet dis tydelik. Ek weet dit klink soos moed opgee. Maar dit is nie. Dit is my weergawe van een dag op 'n slag. Verwag min, doen wat jy kan en oorleef vandag. Wees dankbaar vir small favours. En IS.

0 comments: