Die lewe is soos 'n tuin - Storie in Beeld

’n Mens se beeld van die lewe bepaal grootliks jou ingesteldheid.

Sien jy die lewe as ’n resies, is jy ongeduldig met ander en is terugslae vir jou mislukkings. Sien jy die lewe as ’n reis, word jou lewensfases soos avonture deur verskillende lande.
Die verhaal in Gen. 2 help ons om die lewe as ’n tuin te sien.
Daarvoor is dit belangrik om nie na die verhaal, soos my kollega Danie du Toit verduidelik, as ’n foto-album van die verlede te luister nie, maar as jou eie spieël in die hede.
Wanneer die lewe as ’n tuin gesien word, gaan ’n mens se sintuie oop vir alles wat God gee.
Veral in die lentetyd is ons meer bewus van die groot verskeidenheid wat mens in die tuin kan sien, hoor, ruik, proe en voel.
God gee ons water, werk en vryheid om van alles te geniet.
God gee ook beskerming.
’n Goeie pa probeer nie sy kinders uitvang deur hulle straatspele te verbied nie.
So waarsku God ons teen gevare in die lewe.
Eet ons van die boom van alwetendheid en almag, kan ons die tuin verloor.
Die verhaal leer ons ook van menswees. Dit verduidelik die aantrekkingskrag tussen man en vrou as gelykwaardige wesens.
Dit waarsku dat die wonderlikste gawes – soos kameraadskap – tegelyk ook die gevaarlikste is omdat dit jou teen God kan laat draai.
As die lewe soos ’n tuin is, is die werk daarin nie bedoel as straf nie, maar om betekenis te kry.
Almal wat tuinwerk ken, weet hoe ’n mens kan speel en eksperimenteer. Die werk wil nie net vir jou genot bring nie, maar ook vir ander.
God se eerste versoek aan die mens is om ander geskapenes name gee.
As ’n beroemde skrywer jou vra sy nuwe boek se titel te kies, vereer hy jou.
Deur ons te vertrou, betrek God ons by sy skepping.
Lus vir tuinmaak? ’n Mens kan nie anders nie!
Uit die Woord: “Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ’n helper, ’n gelyke, gekry nie.” - Gen. 2: 20.

0 comments: