Vergifnis, as alles teen my is?

Vergifnis, as alles teen my is?


“Alles is teen my. As my omstandighede net anders was …..” My middeljarige besoeker sit kop onderstebo sy lewenslot en bekla. Tot nou toe word sy lewenspaadjie met die een na die ander mislukking ontsier. Hy is kwaad vir die noodlot, wat dit ookal mag wees. As hy maar net die kanse gehad het wat ander mense kry, brom hy afgunstig. Maar alles was uit die staanspoor net teen hom. Dis dié dat hy vandag is wat hy is. Hy sug……

En ek sug ook. Wat sê mens tog nou vir so iemand? Ek het dan self so baie kanse in die lewe gehad. Ek is gelukkig. Hoe kan ek my in dié man se omstandighede indink?

Maar dan dink ek aan die laaste brief wat Dietrich Bonhoeffer uit die tronk geskryf het kort voordat hy onskuldig tereggestel is. Hy skryf: “Moenie dink ek is ongelukkig nie. Wat is geluk en wat is ongelukkigheid? Dit het so min met omstandighede te make. Geluk het eintlik maar te doen met dit wat binne-in ‘n mens gebeur.”

Wie is hier aan die woord? ‘n Briljante jong teoloog wat deur die Gestapo in hegtenis geneem is en tot die dag van sy dood nog nie presies geweet het vir watter misdaad hy moes boet nie. Drie van sy beste jare van sy lewe moes hy in Duitse gevangenisse deurbring voordat hy onverwags op nege-en-dertigjarige leeftyd tereggestel is. En hy sê: “Geluk het so min met omstandighede te make!” Het sy omstandighede miskien sy gesonde oordeelsvermoë aangetas? As ‘n mens sy briewe lees, ontdek jy die teendeel. Hy het ‘n baie fyn en gebalanseerde insig ontwikkel. Hy het inderwaarheid ‘n innerlike krag ontdek wat hom kon help om bo sy omstandighede uit te styg.

Geluk het so min met omstandighede te make …….

Meneer, jy met die baie mislukkings op jou kerfstok, en Mevrou, u met die skynbaar onherstelbare huwelik – Is u nie selfs besig om mettertyd van u omstandighede ‘n gerieflike verskoning vir u eie tekortkominge te maak nie? Is u nie miskien besig om u omstandighede te oorskat nie? Het u uself nie die willose slaaf van omstandighede gemaak nie?

By tye is dit nogal voordelig om jou mislukkings aan omstandighede toe te skryf. Met die beroep op omstandighede word jy alte maklik as slagoffer verklaar, ‘n afhanklike van ander se bejammering en vertroeteling.

Dit hang eintlik van ‘n mens se benadering af. Omstandighede moenie as ‘n ondeurdringbare muur tussen my en die toekoms gesien word nie. Dis eerder ‘n hindernis wat met inspanning oorbrug kan word en van my ‘n sterker en doelgerigter mens op pad na die toekoms kan maak.

Natuurlik is daar baie ontwrigtende omstandighede. Soos byvoorbeeld siekte en dood en hartseer. Ook fisieke en selfs finansiële gebreke. Dis dinge wat jou by die rant van ‘n afgrond kan bring, dinge wat jou kan aftakel en daarvan weerhou om jou bestemming op ‘n normale manier te bereik.

En ons verstaan ook nie die dinge wat soms teen verwagting en hoop in skeef loop nie. Maar as ons die Bybel oopmaak, ontdek ons so baie mense wat ook nie verstaan het nie. Nogtans het hulle geweet wat dit beteken het om te glo. Hulle glo in God – die God wat verstaan. En die God wat liefhet. En omdat hulle die God van liefde ken, sien hulle kans om hulle onverstaanbare omstandighede aan Hom toe te vertrou.

Dis juis wanneer die krukke van gunstige omstandighede weggeneem word, dat mens die werklikheid van die Goddelike krag begin ervaar.

“Alles is teen my!” Nee,my vriend, nie as God vír jou is nie. So getuig die Bybel. En Bonhoeffer. En so baie mense rondom jou.

dr Jan

0 comments: